Monday 2 August 2021

Die Burger, 30th July 2021 - Kuns en Vermaak, Thank you, Willemien Green for the interview & published article



Willemien Green - 

Die afgelope paar weke het Alan Grobler, ’n welbekende Oos-Kaapse kunstenaar, gereeld van sy indrukwekkende sketse van huise en ander herkenbare bakens in die twee historiese woonbuurte Richmond Hill en Sentraal op die sosiale blad Facebook gepubliseer.

Dit het gelei tot interessante gesprekvoering deur persone wat steeds in dié deel van die stad woon of vroeër jare daar gewoon het.

“Ek het met die sketse begin toe ek nog op skool was,” sê Grobler, wat nou reeds afgetree het en voltyds kuns beoefen.

“Ek het ook met kuns as vak aan die Hoërskool Lawson Brown in Gqeberha gematrikuleer.

“Daarna het ek grafiese kuns aan die Port Elizabeth Technikon studeer.

“Die sketse was ’n manier waarop ek my perspektiewe kon oefen, ek doen dit steeds om in oefening te bly.”

Grobler het eers in Noordeinde gewoon, nie ver van die woonbuurte af waar hyself la-ter van tyd gaan nesskop het nie.

“Ek het eers in die vroeë 1990’s in Richmond Hill gaan woon en het sedertdien verskeie eiendomme in Richmond Hill sowel as in Sentraal besit,” sê hy.

Albei dié woonbuurte is gereeld in die nuus en opknapping aan die woonbuurte is van groot belang om die historiese waarde daarvan te bewaar. Daarom is Grobler se sketse ook ’n visuele boekstawing van die huise en ander belangrike geboue en strukture in dié omgewing.

“Die lewendige atmosfeer en unieke diverse argitektoniese elemente trek my soos ’n magneet aan.”

Hy het nie tred gehou met die aantal sketse wat hy gemaak het nie.

“Dit is ’n magdom, onthou, ek het al in 1970 daarmee begin!

“Gewoonlik het ek sommer on site gesit en skets, maar later het ek foto’s geneem en dan by die huis gaan teken.

Die meeste daarvan is potloodsketse, maar ek het ook later pen en ink by sommige gebruik.

“Die huise is almal so mooi en karaktervol, al is sommige verwaarloos, daar is altyd elemente wat uitstaan en ek het definitief meer as een gunsteling!”

“Een wat dalk vir my van die kosbaarstes is, is die een wat ek geskets het van ’n uitsig oor ’n oopdak-konstruksie wat ek vanuit my kantoorvenster in die Brister-huis gedurende 1992 gehad het.”

“Daarvandaan kon ek Strandweg en die snelweg agter die gebou sien uitsteek.

“Ek onthou dit dalk juis so goed omdat dit nogal ’n uitdaging was om die dakstruktuur akkuraat te kon skets.

“In die toekoms wil ek afdrukke van die sketse laat maak en dit miskien selfs later in ’n boek laat publiseer.”

Grobler het net meer as ’n jaar gelede Graaff-Reinet toe verhuis met die idee om kuns voltyds in die prentjiemooie omgewing te beoefen.

“Ongelukkig moet ek nou om gesondheidsredes weer terugkeer na Gqeberha toe sodat ek nader aan my spesialis kan wees, maar dit het ook sy voordeel, ek sal weer na hartelus enige tyd kunsmateriaal kan koop!” sê hy.

“Covid-19 het die inwoners van Graaff-Reinet ook geraak, maar relatief minimaal, ek skat daar was ongeveer 30 gerapporteerde gevalle.

“Aan die kuns- en kultuurfront kan besoekers steeds die Graaff-Reinet-museum, die Ou Residensie- en Reinet-huis, die Jan Rupert-kunssentrum, die militêre museum en Urquhart-huis besoek, maar Covid-19-regulasies word streng gevolg.”

Die onlangse koue pla Grobler ook nie, want sy kunsprojekte en troeteldiere hou hom besig.

“Ek het nou nege honde en drie katte. My laaste hond het ek hier in Graaff-Reinet oorgeneem by iemand wat hom wou ruil vir kos. Charles is maar agt maande oud en die baba van die lot!

“As ek tussendeur kans kry, lees ek ook graag!

“Sometimes our lives have to be completely shaken up, changed, and rearranged to relocate us to the place we are meant to be.”

Volg Alan Grobler by https://alangroblerart.blogspot.com.